Alle regte voorbehou / All rights reserved

2018 © Dorslandtrekvereniging Swartbooisdrift Gesels met ons op Gebruiksterme Privaatheidsbeleid/
Tuisblad Swartbooisdrift Kontak ons


Swartbooisdrift Dorslandtrekvereniging

Webblad onderhou deur Dorslandtrekvereniging Swartbooisdrift


DORSLANDTREKMONUMENT, SWARTBOOISDRIFT


Die Dorslandtrekmonument by Swartbooisdrif is gebou uit klippe wat ons voorouers daar gepak het as ‘n aandenking soos wat hulle deur die rivier gekom het in 1928. Jan van der Smit was die boumeester. Hy het op 24 Junie 1953 begin bou en dit gereed gehad vir die eerste Swartbooisdrift fees wat geduur het vanaf 26 Junie tot 2 Julie 1953. Die monument is op 1 Julie deur die Administrateur van die destydse Suidwes-Afrika, dr. AJR van Rhyn, onthul.

Volgens 'n skrywe van Pieter van der Smit (broer van Jan van der Smit) het al die feesgangers hulle name op 'n lys geplaas en is dit saam met ander dokumente (en in Gerrit Coetzee se eie woorde) "tydens die geleentheid in `n canned fruit-bottel geplaas" en in die gedenksteen toegemessel.

Hierdie monument gedenk die terugtrek van die Dorslandtrekkers vanuit Angola na Namibië (destyds Suidwes-Afrika). Die deurtog wat op 24 Augustus 1928 begin het, was 'n langsame en dikwels frustrerende proses wat etlike maande geduur het. Groepe is toegelaat om met tussenposes van vyf tot ses dae deur die rivier te beweeg, totdat die 65ste groep op 27 Februarie 1929 Angola finaal verlaat het - omtrent 2000 siele in totaal.

Die eerste groep van 52 het met oom Michiel van der Merwe aan die voorpunt, Suidwes-Afrika se bodem betree. Psalm 122:1 is aangedaan  onder een van die groot bome op die rivier-oewer gesing, waarna die groep na die koppie waar die monument vandag staan, beweeg het. Hier het elkeen twee klippe geneem, een vir hom- of haarself en een vir oom Andries Alberts wat kort voor die terugtog oorlede en op Palanca begrawe is, en 'n klipstapel as baken gepak vir die afsluiting van 'n era en die aanvang van 'n nuwe. Hierdie klipstapel is voortgebou deur die groepe wat hierna gevolg het.

Die drif se naam was oorspronklik Tshimhaka, wat letterlik 'heen-en-weer' beteken, verwysend na die Muhimba's se gedurige beweging deur die drif. Vir baie jare het die Hottentotte onder aanvoering van Petrus Swartbooi, strooptogte onder die Muhimba's uitgevoer en selfs oorkant die rivier in Angola van hulle vee geroof. Nadat hulle die mense kaal gestroop het, het hulle hul rooftogte verder die binneland van Angola ingevat en op 'n stadium bykans honderd beeste van Jan Robberts en omliggende boere gesteel. Met die toestemming van die Portugese het hy toe 'n klompie Boere bymekaar gekry om die beeste terug te kry. Die Muhimba's het ook fluks gehelp en so is die gesteelde vee weer teruggekry kort voor die drif waar die diewe gewag het vir die water om te sak. Dit was egter nie die einde van die strooptogte nie en het

Swartbooi tydens 'n ander skermutseling met die Boere gesneuwel. Toe eers het die strooptogte tot 'n einde gekom en het die Boere die drif so Swartbooisdrift begin noem.

Daar is egter ook grafte by hierdie monument en agter elkeen lê 'n verhaal van hartseer, ontbering en selfs ironie. Op 24 Oktober 1928 is Danielina Jacoba Robberts, 17 jaar oud, saam met haar ongebore kind in die kamp aan die Angola-kant oorlede. Lienie was agt maande swanger toe sy en haar man, Paul Jacobus (Boet) Robberts en haar ouers met twee waens en osse na Swartbooisdrift vertrek en op 28 September aangekom het. Geen mediese dokter of vroedvrou was beskikbaar om te help toe probleme met Lienie se swangerskap ingetree het nie. Sy is uiteindelik na baie pyn en ontbering oorlede. Ironies genoeg het 'n opgeleide suster, mev. Hahn, net die volgende dag by die kamp opgedaag - 'n dag te laat! En drie dae later het dr. Erlank ook daar aangekom.

Ook laat in 1928 sterf Susanna Magrieta du Plessis aan malaria en word by die 'kamp-kerkhof' begrawe. Omtrent dieselfde tyd sterf nog 'n dogtertjie, Maria Duvenhage, ook aan malaria en is ook op die koppie begrawe. Daar word vertel dat die grond te hard was om 'n ordentlike gat te grawe en is daar toe op 'n vlak graf 'n groot hoop klippe gepak. Haar suster was die 88-jarige mev. Boshoff van Grootfontein.

Op Woensdag 23 Januarie 1929 is daar weer 'n kindjie begrawe, hierdie keer 'n tweejarige weeskind wat ook oorlede is aan malaria. Skaars tien dae later, op 4 Februarie, is Hermanus Prinsloo se tweejarige dogtertjie aan stuipe oorlede. Die moeder en ouma was albei so siek dat hulle nie eens die kind kon sien sterf nie. Die volgende Vrydag is nog 'n jong vroutjie oorlede. Sy was al lank siek en het by haar ouers gebly, aangesien haar man aan die pad gewerk het. Sy het vir oulaas regop gesit en nugter en kalm 'n boodskap vir haar man aan haar ouers gegee en gesterf. Haar man het vyf minute later daar opgedaag, ontroosbaar en gebroke.

Daar is ook nie-Angola-Afrikaners begrawe. Met die groot reëns van 1934 is 'n polisieman, Van Eck, dood aan malaria. Alle verbinding en kommunikasie met die binneland was afgesny, wat beteken het dat 'n doodskis nie bekom kon word nie. Uit radeloosheid is hy in 'n administrasie-hangkas begrawe, wat op sy beurt weer verreikende gevolge met die betrokke owerheid gehad het. Uiteindelik is hy weer opgegrawe en by die monument, enigste begraafplaas in die omgewing, herbegrawe.

Die monument-begraafplaas het in 2003 ook die laaste rusplek van Cornelius Marthinus du Plessis geword, wat moontlik ook 'n nasaat kan wees.